Wat is Verslawing
Wanneer jy deur iets beheer word waaroor jy geen mag het nie, het jy `n slaaf daarvan geword.
Verslawing is die voortgesette herhaling van 'n gedrag ten spyte van negatiewe gevolge.
Verslawing is ‘n oorgee aan iets waarsonder jy nie kan klaarkom, en dan word jy die slaaf daarvan. Dit is soos ‘n binding op jou. Baie keer wanneer ons luister na ‘n boodskap oor die breek van verslawing, dink ons dadelik dat dit net ’n boodskap is waarna ‘n drank en dwelmverrslaafde moet luister. Maar ons vergeet van die dinge waaraan ons ook verslaaf mag wees, want, verslawing gaan nie net oor dwelms en drank nie. Verslawing het baie gesigte; Dobbel, Pornografie, rook, werk, leuens, skinder, geld, koop, kwaadsteek, drank, mag, gierigheid, dwelms, jaloesie, woede en nog baie meer. Dit is ‘n feit dat ons aan hierdie dinge verslaaf kan raak sonder dat ons dit agterkom.
Hoe breek `n mens met verslawing? Baie Christene is verslaaf aan baie soorte verslawing. Dit is kettings waarmee Satan mense bind, en wat hulle slawe maak van die duiwel. Al probeer hulle, is dit moeilik om daarmee te breek! Ek was ook `n gevangene van Satan deur sterk drank en sigarette; ek het ook baie dinge probeer maar kon nie in my eie krag daarmee breek nie! Jesus is groter en sterke as die sterkste mag van Satan. Eintlik het die duiwel geen krag nie, die krag en mag wat hy oor ons het gee ons vir hom. Deur vrees en magteloosheid gee ons die bose mag oor ons. Sonde en moeite en selfs die dood het oor die wêreld en sy mense gekom, nadat hulle ongehoorsaam was aan God en gehoorsaam was aan die Satan. Vandag nog het ons gehoorsaamheid aan die duiwel en sy bose mage die krag wat Satan gebruik om ons gevange te hou! Op Golgota het Jesus die mag van Satan gebreek, sodat ons verlos kan word van sonde en verslawing! In jou eie krag is dit nie moontlik om verlos te word nie! Jesus het my losgemaak van die bande van Satan, en Hy kan jou ook losmaak! Die belangrikste is jy moet erken dat jy `n probleem het, as jy dit nie as sonde sien nie, as jy nie wil erken dat jy `n slaaf is nie, kan jy nie verlos word nie!
Rom 6:16-18 Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie òf van die sonde tot die dood, òf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid? Maar ons dank God dat julle wel diensknegte van die sonde was, maar van harte gehoorsaam geword het aan die voorbeeld van die leer wat aan julle oorgelewer is, en, vrygemaak van die sonde, het julle diensbaar geword aan die geregtigheid.
Erken en bely en bid dat God se krag en Sy genade jou losmaak!
2 Petrus 2:19 “Hulle belowe vryheid, maar is self slawe in die diens van korrupsie. As iets jou in sy mag het, is jy mos sy slaaf.”
Jy sal nooit die vryheid om in God se teenwoordigheid te lewe ervaar, terwyl jy nog in die mag van verslawing bly nie.
Mattheus 5:8 “Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien.”
Dit is iets wat jy doen wat fisies, verstandelik, emosioneel of geestelik vernietigend is, of daardie ding wat jy aanhou doen, wat jy nie meer wil doen nie, maar jy doen dit in elk geval, want dit het mag oor jou. Baie van die verslawings het hul oorsprong in 'n negatiewe houding, want jy sien net die negatiewe dinge in die lewe raak nie en dit maak jou net depressief, en jy weet nie hoe om dit te hanteer nie.
Rom 7:14-18 Want ons weet dat die wet geestelik is, maar ek is vleeslik, verkoop onder die sonde. Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek. En as ek doen wat ek nie wil nie, dan stem ek die wet toe dat dit goed is. Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie.
Daar is soveel goeie mense wat gebonde is aan verslawing. En om verslawing te ontken help nie die probleem nie. Wees eerlik, erken die dinge wat jy doen, die dinge wat jy haat, en maak dan die nodige veranderinge in jou lewe. Jy kan nie verslawing alleen oorkom nie. Moenie vol vertroue wees dat jy met jou eie vermoë daarmee kan breek nie, besef dat God jou nie verwerp nie maar Hy is daar vir jou! Ons moet besef en erken dat ons hulp nodig het. Moenie koppig wees nie, soek hulp. As jy hardkoppig wil wees sal dit jou niks help nie!! Herken dit voor Jesus en bid dat Hy jou sal help, as jy wil kan jy verander, maar as jy daarvan hou om 'n slaaf te wees kan niemand jou help nie.
Verslawing neem beheer oor jou, stadig maar seker. Verslawing is soos om 'n kabel te weef, elke draad is ineengevleg, die drade is fyn en dun, maar soos jy weef, word baie drade 'n onbreekbare kabel. Dit is dieselfde met verslawing, daaglikse gebruik word sterker na 'n tydperk dit word sterker en beheer jou. Dit is amper soos 'n baie gemaklike bed, maklik om in te klim, moeilik om af te klim. Wanneer jy byvoorbeeld begin rook, is dit nie die eerste pakkie sigarette wat jou ’n slaaf daarvan maak nie, dit is die voortdurende gebruik wat jou liggaam van die nikotien afhanklik maak. Dit is dieselfde met enige ander verslawings, sterk drank, pornografie, seks en vele ander. Jy kan later nie stop nie en dit beheer jou lewe, wil jy beheer van jou lewe verloor en toelaat dat jou verslawing jou beheer?
Stappe tot oorwinning.
Jesaja 41:10 “Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Moenie ontsteld word nie, want Ek is jou God. Ek maak jou sterk en wil jou help. Ek laat jou oorwin met my regterhand wat mense red.
Jakobus 4:7 “Wys dus dat julle van God afhanklik is deur na Hom te luister. Weerstaan die duiwel en hy sal van julle af wegvlug.”
God sê erkenning is die begin van oorwinning. Die wonderlikste van erkenning is dit bring onmiddellik ‘n gevoel van vryheid in jou lewe. Jy besef dat daar ook ander is met verslawing nie net jy nie.
Jakobus 5:16 ”Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word. Die gebed van iemand wie se saak met God reg is, het ‘n kragtige werking.”
“Die eerste stap op die weg tot oorwinning is om die vyand uit te ken” (Corrie ten Boom)
“Elke dag kies ek hoe ek enige situasie waarin ek my bevind beheer: Sal ek ‘n oorwinnaar of ‘n slagoffer wees?” (Georgia Comfort)
“Satan gee aan Adam ‘n vrug en dit neem die paradys van hom af weg. Laat ons dan alle versoekings oorweeg wat ons aangebied word; wat ons kan wen of verloor.” Richard Sibbes.
Mense gebruik dwelms omdat dit hulle fantasties laat voel. Maar hulle het nie ‘n benul van die enorme breinskade wat die nuwe soorte dwelms kan aanrig nie. Ook dokters en psigiaters begin nou eers dié skade op breinskanderings sien.
Om te ontvlug van jouself en omstandighede kan jou lei van heerlikheid vir `n paar oomblike wat die beheer van jou lewe oorneem en lei na die dieptes van `n lewe van hel waar jy nie kan uitkom nie!
En selfs ná jy opgehou het daarmee, kan hierdie dwelms die delikate weefsels van jou brein verskroei, sodat jy verander in ‘n monster wat tot die allerverskriklikste geweld in staat is. Of net in ‘n donker moeras van depressie versink waaruit NIKS jou weer sal kan verlos nie.
Maak nie saak watter verslawing jy beproef nie, al is dit net vir één aand se “rave”, jy kan maar weet jy speel met vuur. Dit wat jy daar rook of snuif, sluk of spuit, gaan jou brein met die geweld van ‘n weerligstraal tref.
Dis nie sedebewakers, onderwysers en predikante wat só sê nie. Dis geharde polisiemanne, chemiese wetenskaplikes en psigiaters wat die uitwerking van dié dwelms met verbystering aanskou.
Vergeet maar alles wat jy gedink het jy van dwelms weet. Niks kan jou voorberei op die verskrikking wat nou deur charlie en rock, crystal, hot ice, china white en liquid ecstasy gesaai word nie.
En dis nie elders nie, dis hier, in doodgewone buurte, in ons skole en universiteite waar dit gebeur onder gewone tieners wat net pret wil hê en grootmense wat van beter behoort te weet.
Die hippies en dwelms van ‘n vorige era begin soos ‘n kindertuin lyk. Vandag se dwelms is soveel kragtiger, werk soveel intenser op jou in, bring jou tot ekstatiese hoogtepunte van euforie en energie, en slinger jou daarna in die dieptes neer. Dis nie verniet dat hulle sê jy ‘crash’ nie.
Tot dusver het niemand geweet watter verwoesting hierdie chemiese geweld in jou brein saai nie. Nou begin ons weet. En dis ‘n skrikwekkende gesig.
Daar is die dwelm; yellow honey, ‘n dodelike nuwe vorm van marijuana, wat sewe keer sterker as gewone dagga is en tot ‘n “inploffing” in jou brein kan lei.
Dit het onlangs in Los Angeles kop uitgesteek. Die SAPD se narkotikaburo voorspel dat dit binnekort in Suid-Afrika vastrapplek kan kry en dat dit die tikprobleem na ‘n piekniek gaan laat lyk.
Plaaslike dwelms is nie veel veiliger nie. ‘n Mens het geen idee van wat werklik in daardie middels skuil wat êrens in ‘n toilet, huis of pakkamer vervaardig word nie.
Straatdwelms word dikwels met die hoogs verslawende heroïen gemeng om te verseker dat jy fisiek afhanklik raak.
Mense besef ook nie altyd hoe gekonsentreerd straatdwelms kan wees nie; dis soms tot 1 500 keer meer as die dosis wat die liggaam met veiligheid kan hanteer.
Dis soos om vuurpylbrandstof in ‘n stokou kar te gooi.
Dis ook moontlik dat straatdwelms skadelike onsuiwerhede kan bevat. ‘n Voorbeeld is ‘n chemiese stof in Mandraxpille wat longkanker kan veroorsaak.
Op die spoor van dwelmgebruik volg die misdade wat daarmee saamhang.
“Ons sien ál meer dat as iemand vermoor word, hy nie een keer gesteek of geskiet word nie, maar sommer sestig keer. Tikgebruik verander die chemiese werking van die brein en stomp die verbruiker af.
Om iemand te verkrag of dood te maak, is vir hom niks nie,” sê Casper.
Die nege algemeenste straatdwelms
Die middels wat hier bespreek word, is onwettig en word gelys in die Dwelmwet, Wet 140/92.
Die algemeenste straatdwelms wat in Suid-Afrika misbruik word, kan geklassifiseer word volgens hul uitwerking op die brein.
Daar is drie hoofklasse:
Hieronder tel kokaïen, crack, Ecstasy, tik, crystal meths, amfetamiene, efedrien en Khat. Dié middels stimuleer die brein en verhoog die hartklop. Jong mense gebruik dit om hulle sterker en meer energiek en doelgerig te laat voel.
Tipiese tekens van die gebruik van stimulante is ‘n kleiner eetlus, hope energie, slapeloosheid, vergrote pupille, spraaksaamheid, prikkelbaarheid, angs, hiperaktiwiteit, skielike buiveranderings, ongeduld en senuagtigheid.
1. Kokaïen
Straatname
Blow, charlie, coke
Dié dwelm, wat jou verstand beïnvloed, word van die kokabos in Peru, Bolivia en ander bergagtige lande vervaardig en was eens die glansdwelm van die rykes en bekendes, maar deesdae eksperimenteer ál meer kinders daarmee.
Die dwelm hemel:
‘n Gevoel van opgewektheid, euforie, hiperaktiwiteit, selfvertroue, verhoogde bewustheid en onbeperkte energie.Dié opwelling vind plaas vyf tot tien minute nadat die kokaïen gesnuif is.
Die dwelm hel:
Party gebruikers ervaar hoofpyn, bewerigheid, angstigheid en slapeloosheid ná ‘n enkele dosis. Groter dosisse kan tot ‘n gekners van die tande en kompulsiewe gedrag soos ‘n gekrap en vingergetrommel lei. Gebruikers kan stemme hoor en hewige vervolgingswaansin kry. Hulle kan angstig voel, irrasioneel dink en ook aggressief word. ‘n Oordosis kan rukkings, paniekaanvalle, hartversaking, beroerte, asemhalingsprobleme en die dood veroorsaak.
Uitwerking op die liggaam:
Jou polsslag en bloeddruk styg en jou pupille vergroot. Mettertyd sal jy uitgeteer lyk, jou seksdrif sal afneem en jy sal gereeld verkoue en ‘n loopneus kry.
Kortliks: Jy sal verskriklik gehawend lyk. Kokaïen is sielkundig en fisiek verslawend. As die euforie eers verby is, smag gebruikers na nog stimulering.
Uitwerking op die brein:
Kokaïen meng in met die natuurlike afskeiding van dopamien en serotonien, die brein se chemiese boodskappers wat jou lekker laat voel. Dit veroorsaak ophopings van hierdie breinoordragstowwe en gee aanleiding tot die welbekende “kruin”wat gebruikers ervaar. Die vreesaanjaende feit is egter dat kokaïen die breinoordragstowwe uiteindelik so kan uitput dat dit depressie, apatie, moegheid, angstigheid en selfmoordneigings kan veroorsaak wat maande kan duur. As die uitputting algeheel en blywend is, sal selfs die beste antidepressante nie werk nie en jy kan dalk nooit in staat wees om uit dié donker dieptes te ontsnap nie. Jy kan ook Parkinson se siekte ontwikkel wat jou op ‘n vroeë leeftyd soos ‘n bejaarde sal laat bewe.
2. Crack
Straatname
Rocks, freebase
Crack is ‘n goedkoop vorm van kokaïen wat deur bymiddels in rookbare rocks omskep word. Dis ‘n gekonsentreerde vorm van kokaïen en om op te hou, is drie keer moeiliker as met ander dwelms.
Die dwelm hemel:
Jy voel welgeluksalig, opgewek en eufories. Die hoogtepunt is intens, maar duur maar ‘n rapsie meer as tien minute.
Die dwelm hel:
Die gevoel van euforie word vinnig opgevolg deur net so ‘n intense gevoel van depressie, wat die behoefte skep om weer en weer te rook. Dié siklus van kruine en insinkings lei tot ‘n verslawing wat vinniger as enige ander dwelm posvat. Die risiko van ‘n oordosis is ook baie hoog.
Uitwerking op die liggaam:
Dieselfde as kokaïen, maar intenser. Gebruikers kan “sneeuligte” of stralekranse sien. Hul polsslag kan onreëlmatig raak, wat ‘n hartaanvalrisiko verhoog.
Uitwerking op die brein:
Omdat dit gerook word, bereik ‘n hoë dosis die brein binne minder as tien sekondes – met ‘n vyf tot tien keer hoër konsentrasie as kokaïen (wat gesnuif word). Dit verander die biochemiese toestand van die brein en put die voorraad van dopamien en serotonien, twee goedvoel-oordragstowwe, uit. Hierdie skade kan blywend wees, wat tot voortdurende paranoia, selfmoordneigings en depressie, of hewige woedeaanvalle kan lei.
3. Ice
(KRISTALMETAMFETAMIEN)
Straatname
Crystals, crystal, meth, rock, candy, batu, glass, LA glass, super ice, hot ice, LA crystal, Hawaiian salt
Hierdie nuwer vorm van gekristalliseerde metamfetamien is byna 100 persent suiwer. Dis reukloos, word in glaspype gerook en is dodeliker as crack en kokaïen en blykbaar verslawender.
Die dwelm hemel:
Rokers voel binne sekondes ‘n intense opwelling van fisieke en geestelike opwinding. Die uitwerking kan van vier tot veertien uur aanhou.
Die dwelm hel:
‘n Intense angs- en depressiegevoel, slapeloosheid, moegheid en uiteindelik raak jy die kluts kwyt. ‘n Toestand soortgelyk aan paranoïese skisofrenie kan ook op swaar gebruik volg.
Uitwerking op die liggaam:
Gebruikers het groter en groter dosisse nodig vir dieselfde kruin. Langdurige gebruik beskadig die longe, lewer en niere.
Uitwerking op die brein:
Breinskade soos met tik, maar in ‘n nog erger graad.
4. Ecstacy
Straatname
XTC, e, Adam, MDMA
Ecstasy is ‘n “rave”- of “paartie”-dwelm en word dikwels gebruik om nag deur te kan dans. Dis ‘n saamgeflanste dwelm of dwelmkonkoksie, soos tik. Hoekom het dit so ‘n cool naam? Omdat metieleendioksiemetamfetamien (MDMA) vir selfs die mees gesoute dwelmslaaf een te veel sal wees.
Die dwelm hemel:
Daar is ‘n verhoogde gevoel van plesier, verhoogde selfvertroue en hope energie, vreedsaamheid, aanvaarding en empatie. Die kruin-fase duur tussen vier en ses uur.
Die dwelm hel:
Gebruikers kan onduidelik sien, baie sweet en op hul tande kners of die binnekant van hul wange byt. Hulle kan begin ruk, naar voel, opgooi en epileptiese aanvalle kry. Gereelde of langdurige gebruik of groot dosisse kan jou in ‘n hoogs depressiewe, paranoïese mens verander wat angsaanvalle kry.
Uitwerking op die liggaam:
Ecstasy kan selfs in klein dosisse gevaarlik wees vir mense met hartsiektes en asma. Groot dosisse kan tot oorverhitting van die liggaam en brein, waterterughouding, beroerte en hartaanvalle lei.
Uitwerking op die brein:
Ecstasy beïnvloed jou brein deur minstens drie brein-oordragstowwe te laat toeneem (serotonien, dopamien en norepinefrien) en wanneer dit hierdie voorraad uitput, veral die serotonienvoorraad, is ernstige depressie gewoonlik jou voorland. Psigiaters sê hulle sien al meer hoe Ecstacy-gebruikers se kop uithaak en hulle blywende breinskade kry.
Gevaar:
Baie saamgeflanste straatdwelms of dwelmkonkoksies (met die misleidende naam designer drugs) word aan naïewe of desperate gebruikers verkoop as heroïen- of kokaïen-plaasvervangers. Omdat jy nie weet wat jy koop nie, is die gevaar groot dat jy ‘n oordosis kan inkry.
5. Metamfetamien
Straatname
Tik, tik-tik, crystal, meth, crystal meth, crank, uppers, speed
Tik is ‘n dwelmkonkoksie en word verkoop as poeiers, pille en kapsules wat gesnuif, gerook of ingespuit word. Dit kan tuis gemaak word uit medisyne wat oor die toonbank te koop is.
Die dwelm hemel:
Net soos kokaïen en crack lei tik tot ‘n toename in wakkerheid en meer energie, selfvertroue, seksdrif en euforie.
Die dwelm hel:
Aggressie, geweld, psigotiese gedrag, geheueverlies en hart- en breinskade. Langtermyn-gebruikers kan feitlik seker wees van slapeloosheid, psigotiese episodes, vervolgingswaansin, hallusinasies en ineenstorting.
Uitwerking op die liggaam:
Bewende hande, verhoogde polsslag en kwaai sweet. ‘n Oordosis kan koors en hartversaking veroorsaak. Langtermyngebruik maak die gevaar groter dat jy hepatitis C of MIV opdoen omdat dit ingespuit word en tot hoërisiko- seksuele gedrag lei.
Uitwerking op die brein
Tik werk as ‘n stimulant, net soos kokaïen. Dit bly egter veel langer in die liggaam. Die uitputting van die brein se dopamienvoorraad is uiters kommerwekkend. ‘n Tik-verslaafde verloor elke twee jaar tot die helfte van sy dopamienvoorraad, teenoor die vyf tot tien persent elke tien jaar vir die gemiddelde mens.
Dopamien help gekoördineerde bewegings reguleer en sodra die vlak met vyftien persent daal, ontwikkel die slagoffer Parkinson se siekte, wat gekenmerk word deur bewerige en rukkerige hande en kop. In die Wes-Kaap is daar jong tik-gebruikers wat reeds aan Parkinson se siekte ly.
Psigiaters is ook besorg oor die toename in gevalle van skisofrenie en psigoses onder tikgebruikers.
Dit lyk of tik mense se breine so beskadig dat hulle soos uiters aggressiewe psigopate begin optree. Dít word weerspieël in die Narkotikaburo se bevestiging dat moorde en verkragtings deur tik-gebruikers sinloser en aggressiewer raak.
Die babas van vroue wat tik tydens hul swangerskap gebruik, het ‘n groter kans om al in hul kinderjare Parkinson se siekte te ontwikkel.
Nog erger: Dié babas se derms ontwikkel aan die buitekant van hul lyfies. Babas met dié afwyking word gereeld in sekere hospitale in die Skiereiland gebore.
Onderdrukkers (Depressante)
Dié middels onderdruk of vertraag sekere breinfunksies. Afhangend van watter deel van die brein onderdruk word, word dit in subgroepe verdeel, naamlik narkotiese of verdowende middels soos heroïen of middels wat jou slaperig kan maak soos onder meer Mandrax.
6. Heroïen
Straatname
Smack, mud, China white, brown, Mexican brown, brown sugar, gear, H, horse, junk
Heroïen word vervaardig van die hars van die opium-papawer en is die gevaarlikste en verslawendste dwelm. Suiwer heroïen is ‘n wit, reuklose, kristalagtige poeier met ‘n bitter smaak. Hoe bruiner die kleur, hoe meer onsuiwerhede bevat dit.
Dit word dikwels versny met stysel, suiker soos glukose, poeiermelk, babapoeier, waspoeier, strignien of selfs ander gifstowwe voordat dit verkoop word. Dit word gerook, gesnuif of ingespuit.
Die dwelm hemel:
‘n Diepgaande gevoel van warmte en welsyn deurspoel die gebruiker en blokkeer alle gewaarwordings van pyn en onsekerheid.
Die dwelm hel:
Binne ses tot agt uur kan simptome soos naarheid, braking, koudkry, hewige gesweet en spier- en beenpyne volg. Die eintlike hel begin met die intrede van onttrekkingsimptome wat binne twee dae ná die laaste fix kan begin.
Uitwerking op die liggaam:
Heel eerste lei dit tot pyn-onderdrukking, lomerigheid, swaarheid van die ledemate, vlak asemhaling, ‘n swak pols, droë mond en erg vernoude pupille. Langtermyngebruik lei tot lewerskade en vergiftiging as gevolg van bymiddels, bakteriële besmetting, absesse, infeksie van die hartvoering en -kleppe, en artritis.
Babas van ma’s wat gedurende hul swangerskap heroïen gebruik, kan verslaaf gebore word.
Uitwerking op die brein:
In die brein verander heroïen vinnig in morfien, wat aan sekere reseptors bind om die gevoel van geluksaligheid te gee. Maar die brein reageer op dié bindings deur minder van sy eie goedvoel-endorfiene te vervaardig. Heroïen mors die chemiese balans in die brein só op dat die gebruiker begin om pyn te ervaar sonder dat daar enige beserings is.
Onvoorspelbare bui-veranderings en verwarring is die gevolg van die veranderde chemiese stowwe in die brein.
7. Mandrax
Straatname
Whites, Buttons
Suid-Afrika het die hoogste misbruik per kop in die wêreld en die mandrax- (metakwaloon-) tablette word gewoonlik fyngemaak en saam met ‘n mengsel van dagga of tabak in ‘n bottelnekpyp, ‘n sogenaamde white pipe of “witwyf”, gerook.
Die dwelm hemel:
Jy voel heeltemal ontspanne, vreedsaam en sorgeloos. Niks ter wêreld kan jou skeel nie.
Die dwelm hel:
As jy te veel rook, sal jy naar voel, of bewusteloos of heeltemal bedwelm raak.
Uitwerking op die liggaam:
Mandrax- gebruikers kan fisieke en sielkundige afhanklikheid van die dwelm ontwikkel en aanhoudend daarna smag. Hulle het al hoe meer daarvan nodig om die gewenste uitwerking te kry.
Uitwerking op die brein:
Mandraxgebruik verander die brein-chemikalieë met die gevolg dat die gebruiker soos ‘n zombie word weens die onderdrukking van die werking van die brein.
Hallusinogene
Hierdie psigedeliese dwelms vervorm ‘n mens se werklikheid heeltemal en dompel die gebruiker in ‘n droomwêreld waar alles vervorm is, en kleure hoorbaar en klanke sigbaar word. As groot hoeveelhede gebruik word, kan dit jou brein deurmekaarkrap en sinsbedrog en hallusinasies veroorsaak. Dit versnel ook die brein, wat gemoedskommelinge van euforie tot die diepste depressie tot gewelddadigheid kan veroorsaak. Partykeer kan die verlies van identiteit en depressie so erg raak dat dit tot selfmoord kan lei.
8. Kannabis
Straatname
Marijuana, dagga, dope, grass, ghanja, weed
In Suid-Afrika word kannabis op die platteland gekweek en verkoop om die pot aan die kook te hou. Die cannabis-plant bevat meer as 426 bekende chemikalieë, onder meer stowwe wat bekendstaan as THC (tetrahidrokannabinol).
Die dwelm hemel:
Jy voel eufories en ontspanne.
Die dwelm hel:
Paniekaanvalle, hallusinasies, terugflitse en geheueverlies kan voorkom.
Uitwerking op die liggaam:
Dit veroorsaak sinusitis en brongitis en kan tot longkanker lei. Onvrugbaarheid by mans en vroue, miskrame, doodgeboorte en vroeë sterfte by babas is van die ander gevare.
Fetale marijuana-sindroom – gekenmerk deur lae geboortegewig en ontwikkelingsabnormaliteite – kom vyf keer meer voor as fetale alkoholsindroom.
Uitwerking op die brein:
THC verander die brein-chemikalieë wat jou gevoelens, geheue, sintuie en bewegingskoördinasie beheer.
9. LSD
(Lisergiensuurdiëtielamied)
Straatname
Acid, blotter acid, microdot, white lightning
LSD is ‘n geurlose en kleurlose dwelm wat in twee vorms beskikbaar is: LSD-papier wat met LSD deurdrenk is; of mikrotablette (“microdots”) wat ‘n baie lae konsentrasie LSD bevat.
Die dwelm hemel:
Dit voel asof jou sintuie omgeruil is, wat jou laat voel asof jy kleure hoor en klanke sien. As jy genoeg LSD neem, veroorsaak dit illusies en visuele hallusinasies.
Die dwelm hel:
Geestesafwykings soos skisofrenie en hewige depressie kan deur die gebruik van LSD aangebring word.
Uitwerking op die liggaam:
Verhoogde polsslag en bloeddruk, gevoelloosheid en swakheid.
Uitwerking op die brein:
LSD beïnvloed ‘n groot aantal chemikalieë in die brein, insluitende dopamien en serotonien. Dit lyk of die dwelm moontlik die vlakke van die stof glutamaat in baie spesifieke dele van die brein verhoog, wat die breinselle oorstimuleer en ‘n “elektriese storm”in die brein ontketen.
Elke elektriese storm kan tot blywende breinveranderings lei.
Jou Brein Word Bespied
Nuwe tegnologie stel dokters in staat om mikroskopiese areas van die brein – die gebiede wat die meeste deur dwelmgebruik beïnvloed word – te bekyk.
Die een metode is die sogenaamde Brain SPECT (Single Photon Emission Computed Tomography), waar gammastrale gebruik word om twee- of driedimensionele beelde van aktiewe breingebiede te skep.
Met ‘n brein-SPECT kan dokters kyk na die skade wat deur verskillende dwelms as gevolg van aangetaste bloedtoevloei aangerig is, verduidelik dr. Pieter Botha van die radiologie-departement by Tygerberg-hospitaal in Kaapstad.
Dwelms soos alkohol, kokaïen en dagga tas die doetreffendheid van bloedvate in die brein aan en belemmer die bloedtoevoer na sekere gebiede.
Op skanderings verskyn die aangetaste dele as “gate” in die brein. Die skanderings hierbo wys die brein-SPECT’e van drie verskillende crack-gebruikers.
Die kleure op die skandering dui breinaktiwiteitsvlakke aan. Rooi is die beste en geel, groen en blou dui die areas met laer aktiwiteit in afnemende volgorde aan.
4 Stappe Na Dwelmafhanklikheid
Feit
Al hoe meer dwelms word deesdae chemies só vervaardig dat dit gerook kan word, omdat die effek dan vinniger ervaar kan word.
Wanneer ‘n mens tik (metamfetamien) rook, bereik dit binne dertig sekondes die brein en raak jy ‘hoog’, maar as jy dit sluk, neem dit tien tot vyftien minute om by die brein uit te kom.
Bronne: Drugs and Drug Abuse in Southern Africa, Sylvain de Miranda (Van Schaik, 1987) en Donker Liefde, My Verhouding met Heroïen, Anoux Venter, (Tafelberg- Uitgewers, 2007).
Dié artikel is saamgestel met die hulp van een van Suid-Afrika se voorste dwelmkenners, superintendent Casper Venter, chemikus van die chemie-eenheid van die forensiese wetenskap-laboratorium van die SAPD; senior superintendent Deven Naicker, die nasionale hoof van dwelms van die Suid- Afrikaanse Polisiediens; en die Mediese Navorsingsraad.

- Erken jy het ‘n probleem. (jy kan nie wen voor jy nie erken dat jy ‘n probleem het nie.)
- Maak staat op God se krag. (hoe meer jy God deel van jou lewe maak, hoe meer sal jy sien hoe Hy in jou werk)
Jesaja 41:10 “Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Moenie ontsteld word nie, want Ek is jou God. Ek maak jou sterk en wil jou help. Ek laat jou oorwin met my regterhand wat mense red.
Jakobus 4:7 “Wys dus dat julle van God afhanklik is deur na Hom te luister. Weerstaan die duiwel en hy sal van julle af wegvlug.”
- Verslawing moet vervang word met goeie dinge. (Ons moet die sondige verslawing uit dryf en plek maak vir ‘n nuwe skoon lewe.)
- Kry ondersteuning by mense wat jou kan help. Nou vra jy seker hoekom moet ons ander by ons probleem betrek. Ons dra maskers, ons gee voor ons het alles onder beheer, maar ons het nie, ons ontken ons ware gevoelens en ons speel “games” Ons leef dan in skaamte en dit maak ons onseker van onsself. “As hulle die waarheid oor my weet, sal hulle my nie liefhê nie.”
- Alleen sal jy probeer maar nie daarin slaag nie, wanneer jy eerlik is en dit met ander deel, sal dit die eerste stap na oorwinning wees, omdat jy dit erken, dit sal die masker van jou afhaal sodat jy hulp kan kry, en dit sal nie meer nodig wees om voor te gee wie jy nie is nie.
God sê erkenning is die begin van oorwinning. Die wonderlikste van erkenning is dit bring onmiddellik ‘n gevoel van vryheid in jou lewe. Jy besef dat daar ook ander is met verslawing nie net jy nie.
Jakobus 5:16 ”Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word. Die gebed van iemand wie se saak met God reg is, het ‘n kragtige werking.”
“Die eerste stap op die weg tot oorwinning is om die vyand uit te ken” (Corrie ten Boom)
“Elke dag kies ek hoe ek enige situasie waarin ek my bevind beheer: Sal ek ‘n oorwinnaar of ‘n slagoffer wees?” (Georgia Comfort)
“Satan gee aan Adam ‘n vrug en dit neem die paradys van hom af weg. Laat ons dan alle versoekings oorweeg wat ons aangebied word; wat ons kan wen of verloor.” Richard Sibbes.
Mense gebruik dwelms omdat dit hulle fantasties laat voel. Maar hulle het nie ‘n benul van die enorme breinskade wat die nuwe soorte dwelms kan aanrig nie. Ook dokters en psigiaters begin nou eers dié skade op breinskanderings sien.
Om te ontvlug van jouself en omstandighede kan jou lei van heerlikheid vir `n paar oomblike wat die beheer van jou lewe oorneem en lei na die dieptes van `n lewe van hel waar jy nie kan uitkom nie!
En selfs ná jy opgehou het daarmee, kan hierdie dwelms die delikate weefsels van jou brein verskroei, sodat jy verander in ‘n monster wat tot die allerverskriklikste geweld in staat is. Of net in ‘n donker moeras van depressie versink waaruit NIKS jou weer sal kan verlos nie.
Maak nie saak watter verslawing jy beproef nie, al is dit net vir één aand se “rave”, jy kan maar weet jy speel met vuur. Dit wat jy daar rook of snuif, sluk of spuit, gaan jou brein met die geweld van ‘n weerligstraal tref.
Dis nie sedebewakers, onderwysers en predikante wat só sê nie. Dis geharde polisiemanne, chemiese wetenskaplikes en psigiaters wat die uitwerking van dié dwelms met verbystering aanskou.
Vergeet maar alles wat jy gedink het jy van dwelms weet. Niks kan jou voorberei op die verskrikking wat nou deur charlie en rock, crystal, hot ice, china white en liquid ecstasy gesaai word nie.
En dis nie elders nie, dis hier, in doodgewone buurte, in ons skole en universiteite waar dit gebeur onder gewone tieners wat net pret wil hê en grootmense wat van beter behoort te weet.
Die hippies en dwelms van ‘n vorige era begin soos ‘n kindertuin lyk. Vandag se dwelms is soveel kragtiger, werk soveel intenser op jou in, bring jou tot ekstatiese hoogtepunte van euforie en energie, en slinger jou daarna in die dieptes neer. Dis nie verniet dat hulle sê jy ‘crash’ nie.
Tot dusver het niemand geweet watter verwoesting hierdie chemiese geweld in jou brein saai nie. Nou begin ons weet. En dis ‘n skrikwekkende gesig.
- Psigiaters sien die skisofreniese wrakke wat voor hulle sit.
- Verloskundiges staan met babas wat met hul derms buitekant hul lyfies gebore is.
- Polisiemanne hanteer die slagoffers van meedoënlose misdade.
- Neuroloë peil met die jongste tegnologie vir die eerste keer werklik die omvang van die breinskade wat aangerig is.
Daar is die dwelm; yellow honey, ‘n dodelike nuwe vorm van marijuana, wat sewe keer sterker as gewone dagga is en tot ‘n “inploffing” in jou brein kan lei.
Dit het onlangs in Los Angeles kop uitgesteek. Die SAPD se narkotikaburo voorspel dat dit binnekort in Suid-Afrika vastrapplek kan kry en dat dit die tikprobleem na ‘n piekniek gaan laat lyk.
Plaaslike dwelms is nie veel veiliger nie. ‘n Mens het geen idee van wat werklik in daardie middels skuil wat êrens in ‘n toilet, huis of pakkamer vervaardig word nie.
Straatdwelms word dikwels met die hoogs verslawende heroïen gemeng om te verseker dat jy fisiek afhanklik raak.
Mense besef ook nie altyd hoe gekonsentreerd straatdwelms kan wees nie; dis soms tot 1 500 keer meer as die dosis wat die liggaam met veiligheid kan hanteer.
Dis soos om vuurpylbrandstof in ‘n stokou kar te gooi.
Dis ook moontlik dat straatdwelms skadelike onsuiwerhede kan bevat. ‘n Voorbeeld is ‘n chemiese stof in Mandraxpille wat longkanker kan veroorsaak.
Op die spoor van dwelmgebruik volg die misdade wat daarmee saamhang.
“Ons sien ál meer dat as iemand vermoor word, hy nie een keer gesteek of geskiet word nie, maar sommer sestig keer. Tikgebruik verander die chemiese werking van die brein en stomp die verbruiker af.
Om iemand te verkrag of dood te maak, is vir hom niks nie,” sê Casper.
Die nege algemeenste straatdwelms
Die middels wat hier bespreek word, is onwettig en word gelys in die Dwelmwet, Wet 140/92.
Die algemeenste straatdwelms wat in Suid-Afrika misbruik word, kan geklassifiseer word volgens hul uitwerking op die brein.
Daar is drie hoofklasse:
- Opkikkers (stimulante),
- Onderdrukkers (depressante)
- Hallusinogene (wat jou vreemde dinge laat ervaar).
Hieronder tel kokaïen, crack, Ecstasy, tik, crystal meths, amfetamiene, efedrien en Khat. Dié middels stimuleer die brein en verhoog die hartklop. Jong mense gebruik dit om hulle sterker en meer energiek en doelgerig te laat voel.
Tipiese tekens van die gebruik van stimulante is ‘n kleiner eetlus, hope energie, slapeloosheid, vergrote pupille, spraaksaamheid, prikkelbaarheid, angs, hiperaktiwiteit, skielike buiveranderings, ongeduld en senuagtigheid.
1. Kokaïen
Straatname
Blow, charlie, coke
Dié dwelm, wat jou verstand beïnvloed, word van die kokabos in Peru, Bolivia en ander bergagtige lande vervaardig en was eens die glansdwelm van die rykes en bekendes, maar deesdae eksperimenteer ál meer kinders daarmee.
Die dwelm hemel:
‘n Gevoel van opgewektheid, euforie, hiperaktiwiteit, selfvertroue, verhoogde bewustheid en onbeperkte energie.Dié opwelling vind plaas vyf tot tien minute nadat die kokaïen gesnuif is.
Die dwelm hel:
Party gebruikers ervaar hoofpyn, bewerigheid, angstigheid en slapeloosheid ná ‘n enkele dosis. Groter dosisse kan tot ‘n gekners van die tande en kompulsiewe gedrag soos ‘n gekrap en vingergetrommel lei. Gebruikers kan stemme hoor en hewige vervolgingswaansin kry. Hulle kan angstig voel, irrasioneel dink en ook aggressief word. ‘n Oordosis kan rukkings, paniekaanvalle, hartversaking, beroerte, asemhalingsprobleme en die dood veroorsaak.
Uitwerking op die liggaam:
Jou polsslag en bloeddruk styg en jou pupille vergroot. Mettertyd sal jy uitgeteer lyk, jou seksdrif sal afneem en jy sal gereeld verkoue en ‘n loopneus kry.
Kortliks: Jy sal verskriklik gehawend lyk. Kokaïen is sielkundig en fisiek verslawend. As die euforie eers verby is, smag gebruikers na nog stimulering.
Uitwerking op die brein:
Kokaïen meng in met die natuurlike afskeiding van dopamien en serotonien, die brein se chemiese boodskappers wat jou lekker laat voel. Dit veroorsaak ophopings van hierdie breinoordragstowwe en gee aanleiding tot die welbekende “kruin”wat gebruikers ervaar. Die vreesaanjaende feit is egter dat kokaïen die breinoordragstowwe uiteindelik so kan uitput dat dit depressie, apatie, moegheid, angstigheid en selfmoordneigings kan veroorsaak wat maande kan duur. As die uitputting algeheel en blywend is, sal selfs die beste antidepressante nie werk nie en jy kan dalk nooit in staat wees om uit dié donker dieptes te ontsnap nie. Jy kan ook Parkinson se siekte ontwikkel wat jou op ‘n vroeë leeftyd soos ‘n bejaarde sal laat bewe.
2. Crack
Straatname
Rocks, freebase
Crack is ‘n goedkoop vorm van kokaïen wat deur bymiddels in rookbare rocks omskep word. Dis ‘n gekonsentreerde vorm van kokaïen en om op te hou, is drie keer moeiliker as met ander dwelms.
Die dwelm hemel:
Jy voel welgeluksalig, opgewek en eufories. Die hoogtepunt is intens, maar duur maar ‘n rapsie meer as tien minute.
Die dwelm hel:
Die gevoel van euforie word vinnig opgevolg deur net so ‘n intense gevoel van depressie, wat die behoefte skep om weer en weer te rook. Dié siklus van kruine en insinkings lei tot ‘n verslawing wat vinniger as enige ander dwelm posvat. Die risiko van ‘n oordosis is ook baie hoog.
Uitwerking op die liggaam:
Dieselfde as kokaïen, maar intenser. Gebruikers kan “sneeuligte” of stralekranse sien. Hul polsslag kan onreëlmatig raak, wat ‘n hartaanvalrisiko verhoog.
Uitwerking op die brein:
Omdat dit gerook word, bereik ‘n hoë dosis die brein binne minder as tien sekondes – met ‘n vyf tot tien keer hoër konsentrasie as kokaïen (wat gesnuif word). Dit verander die biochemiese toestand van die brein en put die voorraad van dopamien en serotonien, twee goedvoel-oordragstowwe, uit. Hierdie skade kan blywend wees, wat tot voortdurende paranoia, selfmoordneigings en depressie, of hewige woedeaanvalle kan lei.
3. Ice
(KRISTALMETAMFETAMIEN)
Straatname
Crystals, crystal, meth, rock, candy, batu, glass, LA glass, super ice, hot ice, LA crystal, Hawaiian salt
Hierdie nuwer vorm van gekristalliseerde metamfetamien is byna 100 persent suiwer. Dis reukloos, word in glaspype gerook en is dodeliker as crack en kokaïen en blykbaar verslawender.
Die dwelm hemel:
Rokers voel binne sekondes ‘n intense opwelling van fisieke en geestelike opwinding. Die uitwerking kan van vier tot veertien uur aanhou.
Die dwelm hel:
‘n Intense angs- en depressiegevoel, slapeloosheid, moegheid en uiteindelik raak jy die kluts kwyt. ‘n Toestand soortgelyk aan paranoïese skisofrenie kan ook op swaar gebruik volg.
Uitwerking op die liggaam:
Gebruikers het groter en groter dosisse nodig vir dieselfde kruin. Langdurige gebruik beskadig die longe, lewer en niere.
Uitwerking op die brein:
Breinskade soos met tik, maar in ‘n nog erger graad.
4. Ecstacy
Straatname
XTC, e, Adam, MDMA
Ecstasy is ‘n “rave”- of “paartie”-dwelm en word dikwels gebruik om nag deur te kan dans. Dis ‘n saamgeflanste dwelm of dwelmkonkoksie, soos tik. Hoekom het dit so ‘n cool naam? Omdat metieleendioksiemetamfetamien (MDMA) vir selfs die mees gesoute dwelmslaaf een te veel sal wees.
Die dwelm hemel:
Daar is ‘n verhoogde gevoel van plesier, verhoogde selfvertroue en hope energie, vreedsaamheid, aanvaarding en empatie. Die kruin-fase duur tussen vier en ses uur.
Die dwelm hel:
Gebruikers kan onduidelik sien, baie sweet en op hul tande kners of die binnekant van hul wange byt. Hulle kan begin ruk, naar voel, opgooi en epileptiese aanvalle kry. Gereelde of langdurige gebruik of groot dosisse kan jou in ‘n hoogs depressiewe, paranoïese mens verander wat angsaanvalle kry.
Uitwerking op die liggaam:
Ecstasy kan selfs in klein dosisse gevaarlik wees vir mense met hartsiektes en asma. Groot dosisse kan tot oorverhitting van die liggaam en brein, waterterughouding, beroerte en hartaanvalle lei.
Uitwerking op die brein:
Ecstasy beïnvloed jou brein deur minstens drie brein-oordragstowwe te laat toeneem (serotonien, dopamien en norepinefrien) en wanneer dit hierdie voorraad uitput, veral die serotonienvoorraad, is ernstige depressie gewoonlik jou voorland. Psigiaters sê hulle sien al meer hoe Ecstacy-gebruikers se kop uithaak en hulle blywende breinskade kry.
Gevaar:
Baie saamgeflanste straatdwelms of dwelmkonkoksies (met die misleidende naam designer drugs) word aan naïewe of desperate gebruikers verkoop as heroïen- of kokaïen-plaasvervangers. Omdat jy nie weet wat jy koop nie, is die gevaar groot dat jy ‘n oordosis kan inkry.
5. Metamfetamien
Straatname
Tik, tik-tik, crystal, meth, crystal meth, crank, uppers, speed
Tik is ‘n dwelmkonkoksie en word verkoop as poeiers, pille en kapsules wat gesnuif, gerook of ingespuit word. Dit kan tuis gemaak word uit medisyne wat oor die toonbank te koop is.
Die dwelm hemel:
Net soos kokaïen en crack lei tik tot ‘n toename in wakkerheid en meer energie, selfvertroue, seksdrif en euforie.
Die dwelm hel:
Aggressie, geweld, psigotiese gedrag, geheueverlies en hart- en breinskade. Langtermyn-gebruikers kan feitlik seker wees van slapeloosheid, psigotiese episodes, vervolgingswaansin, hallusinasies en ineenstorting.
Uitwerking op die liggaam:
Bewende hande, verhoogde polsslag en kwaai sweet. ‘n Oordosis kan koors en hartversaking veroorsaak. Langtermyngebruik maak die gevaar groter dat jy hepatitis C of MIV opdoen omdat dit ingespuit word en tot hoërisiko- seksuele gedrag lei.
Uitwerking op die brein
Tik werk as ‘n stimulant, net soos kokaïen. Dit bly egter veel langer in die liggaam. Die uitputting van die brein se dopamienvoorraad is uiters kommerwekkend. ‘n Tik-verslaafde verloor elke twee jaar tot die helfte van sy dopamienvoorraad, teenoor die vyf tot tien persent elke tien jaar vir die gemiddelde mens.
Dopamien help gekoördineerde bewegings reguleer en sodra die vlak met vyftien persent daal, ontwikkel die slagoffer Parkinson se siekte, wat gekenmerk word deur bewerige en rukkerige hande en kop. In die Wes-Kaap is daar jong tik-gebruikers wat reeds aan Parkinson se siekte ly.
Psigiaters is ook besorg oor die toename in gevalle van skisofrenie en psigoses onder tikgebruikers.
Dit lyk of tik mense se breine so beskadig dat hulle soos uiters aggressiewe psigopate begin optree. Dít word weerspieël in die Narkotikaburo se bevestiging dat moorde en verkragtings deur tik-gebruikers sinloser en aggressiewer raak.
Die babas van vroue wat tik tydens hul swangerskap gebruik, het ‘n groter kans om al in hul kinderjare Parkinson se siekte te ontwikkel.
Nog erger: Dié babas se derms ontwikkel aan die buitekant van hul lyfies. Babas met dié afwyking word gereeld in sekere hospitale in die Skiereiland gebore.
Onderdrukkers (Depressante)
Dié middels onderdruk of vertraag sekere breinfunksies. Afhangend van watter deel van die brein onderdruk word, word dit in subgroepe verdeel, naamlik narkotiese of verdowende middels soos heroïen of middels wat jou slaperig kan maak soos onder meer Mandrax.
6. Heroïen
Straatname
Smack, mud, China white, brown, Mexican brown, brown sugar, gear, H, horse, junk
Heroïen word vervaardig van die hars van die opium-papawer en is die gevaarlikste en verslawendste dwelm. Suiwer heroïen is ‘n wit, reuklose, kristalagtige poeier met ‘n bitter smaak. Hoe bruiner die kleur, hoe meer onsuiwerhede bevat dit.
Dit word dikwels versny met stysel, suiker soos glukose, poeiermelk, babapoeier, waspoeier, strignien of selfs ander gifstowwe voordat dit verkoop word. Dit word gerook, gesnuif of ingespuit.
Die dwelm hemel:
‘n Diepgaande gevoel van warmte en welsyn deurspoel die gebruiker en blokkeer alle gewaarwordings van pyn en onsekerheid.
Die dwelm hel:
Binne ses tot agt uur kan simptome soos naarheid, braking, koudkry, hewige gesweet en spier- en beenpyne volg. Die eintlike hel begin met die intrede van onttrekkingsimptome wat binne twee dae ná die laaste fix kan begin.
Uitwerking op die liggaam:
Heel eerste lei dit tot pyn-onderdrukking, lomerigheid, swaarheid van die ledemate, vlak asemhaling, ‘n swak pols, droë mond en erg vernoude pupille. Langtermyngebruik lei tot lewerskade en vergiftiging as gevolg van bymiddels, bakteriële besmetting, absesse, infeksie van die hartvoering en -kleppe, en artritis.
Babas van ma’s wat gedurende hul swangerskap heroïen gebruik, kan verslaaf gebore word.
Uitwerking op die brein:
In die brein verander heroïen vinnig in morfien, wat aan sekere reseptors bind om die gevoel van geluksaligheid te gee. Maar die brein reageer op dié bindings deur minder van sy eie goedvoel-endorfiene te vervaardig. Heroïen mors die chemiese balans in die brein só op dat die gebruiker begin om pyn te ervaar sonder dat daar enige beserings is.
Onvoorspelbare bui-veranderings en verwarring is die gevolg van die veranderde chemiese stowwe in die brein.
7. Mandrax
Straatname
Whites, Buttons
Suid-Afrika het die hoogste misbruik per kop in die wêreld en die mandrax- (metakwaloon-) tablette word gewoonlik fyngemaak en saam met ‘n mengsel van dagga of tabak in ‘n bottelnekpyp, ‘n sogenaamde white pipe of “witwyf”, gerook.
Die dwelm hemel:
Jy voel heeltemal ontspanne, vreedsaam en sorgeloos. Niks ter wêreld kan jou skeel nie.
Die dwelm hel:
As jy te veel rook, sal jy naar voel, of bewusteloos of heeltemal bedwelm raak.
Uitwerking op die liggaam:
Mandrax- gebruikers kan fisieke en sielkundige afhanklikheid van die dwelm ontwikkel en aanhoudend daarna smag. Hulle het al hoe meer daarvan nodig om die gewenste uitwerking te kry.
Uitwerking op die brein:
Mandraxgebruik verander die brein-chemikalieë met die gevolg dat die gebruiker soos ‘n zombie word weens die onderdrukking van die werking van die brein.
Hallusinogene
Hierdie psigedeliese dwelms vervorm ‘n mens se werklikheid heeltemal en dompel die gebruiker in ‘n droomwêreld waar alles vervorm is, en kleure hoorbaar en klanke sigbaar word. As groot hoeveelhede gebruik word, kan dit jou brein deurmekaarkrap en sinsbedrog en hallusinasies veroorsaak. Dit versnel ook die brein, wat gemoedskommelinge van euforie tot die diepste depressie tot gewelddadigheid kan veroorsaak. Partykeer kan die verlies van identiteit en depressie so erg raak dat dit tot selfmoord kan lei.
8. Kannabis
Straatname
Marijuana, dagga, dope, grass, ghanja, weed
In Suid-Afrika word kannabis op die platteland gekweek en verkoop om die pot aan die kook te hou. Die cannabis-plant bevat meer as 426 bekende chemikalieë, onder meer stowwe wat bekendstaan as THC (tetrahidrokannabinol).
Die dwelm hemel:
Jy voel eufories en ontspanne.
Die dwelm hel:
Paniekaanvalle, hallusinasies, terugflitse en geheueverlies kan voorkom.
Uitwerking op die liggaam:
Dit veroorsaak sinusitis en brongitis en kan tot longkanker lei. Onvrugbaarheid by mans en vroue, miskrame, doodgeboorte en vroeë sterfte by babas is van die ander gevare.
Fetale marijuana-sindroom – gekenmerk deur lae geboortegewig en ontwikkelingsabnormaliteite – kom vyf keer meer voor as fetale alkoholsindroom.
Uitwerking op die brein:
THC verander die brein-chemikalieë wat jou gevoelens, geheue, sintuie en bewegingskoördinasie beheer.
9. LSD
(Lisergiensuurdiëtielamied)
Straatname
Acid, blotter acid, microdot, white lightning
LSD is ‘n geurlose en kleurlose dwelm wat in twee vorms beskikbaar is: LSD-papier wat met LSD deurdrenk is; of mikrotablette (“microdots”) wat ‘n baie lae konsentrasie LSD bevat.
Die dwelm hemel:
Dit voel asof jou sintuie omgeruil is, wat jou laat voel asof jy kleure hoor en klanke sien. As jy genoeg LSD neem, veroorsaak dit illusies en visuele hallusinasies.
Die dwelm hel:
Geestesafwykings soos skisofrenie en hewige depressie kan deur die gebruik van LSD aangebring word.
Uitwerking op die liggaam:
Verhoogde polsslag en bloeddruk, gevoelloosheid en swakheid.
Uitwerking op die brein:
LSD beïnvloed ‘n groot aantal chemikalieë in die brein, insluitende dopamien en serotonien. Dit lyk of die dwelm moontlik die vlakke van die stof glutamaat in baie spesifieke dele van die brein verhoog, wat die breinselle oorstimuleer en ‘n “elektriese storm”in die brein ontketen.
Elke elektriese storm kan tot blywende breinveranderings lei.
Jou Brein Word Bespied
Nuwe tegnologie stel dokters in staat om mikroskopiese areas van die brein – die gebiede wat die meeste deur dwelmgebruik beïnvloed word – te bekyk.
Die een metode is die sogenaamde Brain SPECT (Single Photon Emission Computed Tomography), waar gammastrale gebruik word om twee- of driedimensionele beelde van aktiewe breingebiede te skep.
Met ‘n brein-SPECT kan dokters kyk na die skade wat deur verskillende dwelms as gevolg van aangetaste bloedtoevloei aangerig is, verduidelik dr. Pieter Botha van die radiologie-departement by Tygerberg-hospitaal in Kaapstad.
Dwelms soos alkohol, kokaïen en dagga tas die doetreffendheid van bloedvate in die brein aan en belemmer die bloedtoevoer na sekere gebiede.
Op skanderings verskyn die aangetaste dele as “gate” in die brein. Die skanderings hierbo wys die brein-SPECT’e van drie verskillende crack-gebruikers.
Die kleure op die skandering dui breinaktiwiteitsvlakke aan. Rooi is die beste en geel, groen en blou dui die areas met laer aktiwiteit in afnemende volgorde aan.
4 Stappe Na Dwelmafhanklikheid
- Die eksperimentele stadium.
- Die geleentheids-gebruikfase. Jy probeer nie die dwelm aktief verkry nie, maar aanvaar dit as vriende jou dit aanbied.
- Die tyd van gereelde gebruik. Jy kry self die dwelm en maak seker dat jy altyd voorraad byderhand het. Jy gebruik dwelms een tot twee keer per week.
- Die fase van afhanklikheid of verslawing. In dié stadium sal dwelms die grootste deel van jou lewe uitmaak, en enige poging om jou van die dwelm te skei, sal aansienlike weerstand uitlok.